OPINION

Koebaai Maties

Leon Schreiber writes on the ConCourt's sign-off on the Anglicisation of SU

Dit is met ‘n swaar hart dat ek vandag met onmiddellike ingang bedank het as lid van Stellenbosch Universiteit se Institusionele Forum. Dit is nie ‘n besluit wat ek ligtelik geneem het nie, want ek is lief vir Stellenbosch en Maties, en trots op die uitsonderlike leerervaring wat ek oor my vyf studentejare daar beleef het. Ek het wêreldklas onderrig op Maties ontvang, wat my in staat gestel het om later in Duitsland ‘n doktorsgraad te verwerf voordat ek by Princeton Universiteit ‘n navorsingspos gekry het.

Alhoewel ek die uitspraak van die Grondwethof oor die verengelsing van Stellenbosch ten diepste respekteer en aanvaar, kan ek eenvoudig nie persoonlik aandadig wees aan die uitfasering van moedertaalonderrig in Suid-Afrika nie. Stellenbosch was die laaste universiteit in die suide van die land waar studente in Afrikaans onderrig kon ontvang. As gevolg van die hofuitspraak kan geen student uit die Wes-Kaap of Noord-Kaap meer volwaardig in Afrikaans studeer nie – ten spyte daarvan dat Afrikaans by verre die grootste taal in hierdie twee provinsies is.

Afrikaans is ‘n ontwikkelde akademiese taal en ons beskik oor al die nodige praktiese hulpbronne om dit op tersiêre vlak op ‘n inklusiewe wyse te laat voortleef. Ongelukkig is die heel belangrikste hulpbron egter geheel en al afwesig: die politieke wil om inheemse tale uit te bou sodat hul sprekers kultureel en ekonomies kan floreer. Inteendeel: ons Grondwethof het nou amptelik bevestig dat Engels in die openbare sfeer en in praktyk ‘n eersteklas taal is, terwyl ons tien inheemse tale (en daardeur ook hul sprekers) tweedeklas is. Die veelbesproke gelykheid van ons elf landstale bestaan net nog op papier.

My geslag was dus die laaste een wat in ‘n inheemse taal aan ‘n openbare universiteit kon studeer. (Tot ‘n mate is die Potchefstroom kampus van die NWU tans nog die enigste uitsondering, maar dis sekerlik net ‘n kwessie van tyd voordat moedertaal onderrig ook hier die knie sal moet buig). Ek het tot in my honneurs-jaar by Maties al my werk in Afrikaans gedoen, en ek glo dit is juis hierdie fondasie wat my in staat gestel het om ten volle Engels en uiteindelik selfs Duits in my studies te bemeester.

Dit is eenvoudig onmoontlik vir my om nou om te draai en deel te wees van ‘n immorele proses wat duisende ander studente van presies dieselfde geleentheid wat ek gehad het, gaan ontneem.

Tensy daar ‘n ongekende politieke ontwaking plaasvind wat druk uitoefen vir die uitbouing van al ons inheemse tale, is hierdie dus die einde van die pad vir inheemse tale aan ons openbare universiteite. Maar waar hul een deur finaal toegeklap het, het die hof in sy uitspraak darem ‘n ander deur op ‘n skrefie oopgemaak.

Hoofregter Mogoeng Mogoeng het in die uitspraak geskryf: “It is most fitting to appeal particularly to our corporate citizens’ spirit of generosity, to help preserve Afrikaans, and develop other indigenous languages, as essential tools for knowledge impartation and comprehension. And that they can do by deploying resources to the establishment of private institutions of learning envisaged by section 29(3) of the Constitution, which would obviously not be driven by any sinister agenda to discriminate against others on any unconstitutional basis.”

Die belangrikheid van hierdie deel van die uitspraak is ‘n dag later deur oudregter Edwin Cameron, wat die meerderheidsuitspraak geskryf het en ironies onlangs as kanselier van Stellenbosch Universiteit aangestel is, tydens ‘n radio onderhoud uitgewys. In nog ‘n ironiese nadraai in ‘n land waar owerheidsaanbidding hoogty vier, het Cameron bevestig dat die lot van inheemse tale nou ten volle aan die privaatsektor oorgelaat word.

Almal wat, soos ek, lief is vir Afrikaans en die ryke diversiteit van al die tale in ons land, staan dus voor ‘n keuse: ons kan óf aandadig wees aan die onherroeplike verengelsing van ons samelewing, óf ons kan verantwoordelikheid aanvaar en ons steun gee aan nuwe, privaat onderwysinstellings – soos wat Mogoeng ons inderdaad aanmoedig om te doen.

Dit is onregverdig en diep teleurstellend dat die staat en hof een taal-identiteit amptelik bo alle ander verhef het. Maar ek sal nie in sak en as gaan sit of daaraan aandadig wees nie. Ek kies om alle pogings om inheemse tale op te hef, insluitend private skole en universiteite as ook in die alledaagse lewe, te ondersteun. Ek hoop jy sal dieselfde besluit neem.

Dr Leon Schreiber LP
DA Kiesafdelingshoof: Stellenbosch